English version
 
Dies Romanus, die Latynjaardag vir Latynleerders, is vanjaar op 13 September vir die vierde agtereenvolgende keer op Stellenbosch gehou en is deur sowat 80 leerders vanuit ses Wes-Kaapse skole bygewoon.
 
Die dag se verrigtinge is ingelui deur Carina Malan, met haar inspirerende lesing oor Vergilius se verhaal van die Trojaanse oorlog: Vergil: myths of the Trojan war.

 Vergilius tussen die muses Klio en Melpomene.  Detail van Vergilius se boekrol. Hadrumatum mosaïek, Tunisië.


 Non ut edam vivo, sed ut vivam edo  Hierna kon leerders in die pouse ligte versnapperings geniet en na die uitstalling van hul Klassieke Kultuurprojekte vir grade 8 tot 10 kyk.  Oculi plus vident quam oculus
 
Die standaard van die projekte was, in pas met vorige jare, weer van hoogstaande gehalte en die verskillende kategorieë (modelle, plakkate, verslae en opstelle) is deur 'n universiteitspaneel beoordeel. Die beoordelaars (Nadine Brand; Annemaré Kotze; Maridien Schneider en Jo-Marie Claassen), moes hard spook om die verdienste te skat van, onder andere, 'n vuurhoutjiemodel van die Trojaanse perd; 'n gipsmodel van 'n Griekse tempel; asook opstelle oor Julius Caesar of verslaggewing oor 'n onderwerp soos die beoefening van antieke tydverdrywe. Plakkate wat Griekse mites illustreer, was weereens 'n baie gewilde kategorie onder veral graad 8 leerders.
 

 
Na pouse het Christoff Zietsman 'n opwindende lesing The mad Julio-Claudian emperors oor die eienaardige en soms gekke Julio-Claudiese keisers gegee, waarna die leerders flink gevoetslaan het na die Moederkerk.
Tarde venientibus ossa!Tarde venientibus ossa !
 
 
Hier het hulle in twee groepe om die beurt middagete gehap en hul Klassieke Blokraaisel voltooi, terwyl mnr. Hannes Theron, 'n afgetrede geoloog, die res op 'n besigtigingstoer in die Moederkerk geneem het.
 
Daar kon hulle die binnekant van die Moederkerk, asook die unieke eienskappe van 'n basiliekkerk van nader bekyk en meer hoor oor die geskiedenis van die kerkgebou, veral oor die besondere simboliese betekenis van die moderne gebrandskilderde vensters.

Die dag is afgesluit met 'n prysuitdeling: twaalf pryse vir die mees verdienstelike projekte in elke graad is toegeken. Rustenburg Girls' High het vanjaar die beste gevaar en hul onderwyser, Jo Slater, koördineerder van die verskillende skole, was behoorlik trots op haar leerders.

Die organiseerders, deelnemers en sprekers is almal hartlik bedank en het elk smaaklike pakkies sjokolade ontvang: die sprekers Carina Malan en Christoff Zietsman; Annemaré Kotze as US fasiliteerder; Maridien Schneider vir die blokraaisel en Jo-Marie Claassen as seremoniemeester en organiseerder van die jaardag. Vier boekpryse is aan die onderskeie wenners van die blokraaisel gepos.
 
 
Ten slotte 'n besondere blyk van waardering vir die insette van die vier onderwysers verbonde aan die enigste oorblywende sekondêre skole in die Wes-Kaap waar Latyn nog onderrig word: Jo Slater (Rustenburg Girls' High); Avril Dawson (SA College School); Ian Rutter (Rhenish Girls' High en Paul Roos Boys' High) en Minette Visagie (La Rochelle en Hoër Jongenskool Paarl).
 
Jo-Marie Claassen
Stellenbosch, 29 September 2006