| 'n Besondere hoogtepunt was die uitstalling van Klassieke Kultuur-projekte wat leerders as deel van hulle normale skoolopleiding geskep het. Sodanige projekte maak reeds meer as twintig jaar lank deel uit van die Latynleerplan, maar is eers onlangs vir ander vakke binne die "uitkoms-gebaseerde onderrig" ingebring. Kategorieë waarvoor leerders ingeskryf het was: verslae; modelle (waarin die Paarl Hoër Jongenskool skoonskip gemaak het); plakkate en 'n ope kategorie. Modelle het verskeie aspekte van die antieke samelewing voorgestel, onder andere, 'n Romeinse skild; 'n kleivoorstelling van Odusseus; die Colosseum en selfs 'n replika van 'n Romeinse tempel. 'n Verskeidenheid plakkate het onder andere Griekse mites uitgebeeld; Romeinse wonings; asook voorbeelde van antieke vermaak en ontspanning. In die ope kategorie het veral leerders van die Rustenburg Hoër Meisieskool van Kaapstad uitgeblink. Daar was ook inskrywings uit Bloemhof Hoër Meisieskool, wat van besonder hoogstaande gehalte was. Die Graad 8 en 9 seuns van die Hoër Jongenskool het gesamentlik skoonskip gemaak in die "oop" kategorie vir hulle spanpoging-uitstalling van normale gebruiksartikels wat almal Latyns-afgeleide name dra. Julian Hellig het 'n Latynse vertaling van 'n bekende sprokie gelewer. Die prys vir die beste kunsvaardige skepping is aan Camilla Christie van Rustenburg Hoër Meisieskool toegeken. |